9 Daarna het ek opdrag gegee dat die kamer opnuut vir die Here skoongemaak moet word en dat die toerusting wat in die tempel gebruik word, asook die graan wat vir die offers gebring is en die wierook, in die kamer teruggesit moes word.
10 Ek het ook gehoor dat die Leviete nie hulle deel van die offers gekry het nie. Daarom is die meeste van hulle en die tempelmusikante elkeen terug na sy eie plaas toe.
11 Ek het met die leiers geraas omdat hulle toegelaat het dat die tempel verwaarloos word. Daarna het ek die Leviete en die tempelmusikante gaan haal sodat hulle weer hulle werk vir die Here kon doen.
12 Hierna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, wyn en olyfolie na die tempelstoorkamer toe gebring.
13 Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook vir Ganan die seun van Sakkur en kleinseun van Mattanja, aangestel as hulle assistent. Die mense het geweet dat hulle eerlike en opregte mense is. Daarom het hulle hulle vertrou om die voorraad regverdig te verdeel.
14 My God, onthou tog hierdie goeie daad. Moenie al die mooi dinge wat ek so getrou vir u woonplek gedoen het, vir ’n enkele oomblik vergeet nie.
15 In daardie tyd het ek gesien hoe die mense van Juda op ’n sabbat by hulle wynperse werk. Dit was nie al nie; hulle het ook sakke vol koring, wyn, vye en allerhande ander handelsware op hulle donkies gelaai en dit Jerusalem toe gevat om dit daar te gaan verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie sulke goed op ’n sabbat te doen nie.