1 Toe Sanballat hoor dat ons Jerusalem se muur herbou, was hy baie kwaad. Hy het die Jode voor sy vriende en die Samaritaanse soldate beledig.
2 “Wat probeer hierdie miserabele klomp Jode doen?” het hy spottend gevra. “Kan dit wees dat hulle die mure wil herbou? Dink hulle sowaar hulle kan hierdie muur in ’n dag herbou net omdat hulle offers bring? Wil hulle bakstene maak van daardie hoop verbrande rommel?”
3 Tobija die Ammoniet, wat langs hom gestaan het, het haastig bygevoeg: “Los hulle, laat hulle maar hulle muur bou. Dit sal in elk geval nie hou nie. As ’n jakkals daarteen opspring, sal dit omval!”
4 Toe het ek gebid: “God, luister hoe spot hulle ons! Draai hulle gespot teen hulle sodat met hulle gebeur wat hulle ons toewens. Laat hulle weggevoer word as ballinge in ’n vreemde land.
5 Moenie hulle verkeerde dade vergewe of hulle sondes vergeet nie, want hulle het die bouers beledig wat besig is om u opdrag uit te voer.”
6 Ons het verder aan die muur gebou. Kort voor lank was dit halfpad voltooi omdat almal met hart en siel help bou het.