18 Al die bouers het ook ’n swaard om hulle heupe gedra. Die soldaat wat met sy trompet alarm moes maak as daar gevaar kom, het die hele tyd by my gebly.
19 Ek het vir almal daar gesê: “Ons het nog baie werk om te doen. Die muur strek oor ’n groot gebied en ons is soms ver van mekaar af.
20 As julle die trompet hoor blaas, sorg dat julle so gou moontlik by my en die soldate uitkom. Ons weet ons God sal ons help in die geveg.”
21 Ons het elke dag aan die muur gewerk, van die son opgekom tot die sterre uitgekom het. Terwyl die een helfte gewerk het, het die ander helfte waggestaan met hulle wapens.
22 Ek het ook in dié tyd vir mense wat buite Jerusalem gebly het, gevra om binne-in die stad te kom slaap. So kon ons mekaar aflos met wagstaan in die nag en werk in die dag.
23 Nie ek of my medeamptenare, ons helpers of die wagte wat by ons was, het ooit ’n kans gekry om ons klere uit te trek nie. Selfs as ons gaan bad het, het ons altyd wapens byderhand gehou.