8 Hulle het agteraf besluit om Jerusalem aan te val en die mense in die stad uitmekaar te jaag.
9 Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag- staan.
10 Die werkers in Juda het toe ’n treurige lied gesing: “Die bouers se kragte raak op, die rommel is net te veel om weg te vat, ons gaan nooit hierdie muur klaar gebou kry nie.”
11 Intussen het ons teëstanders gedink: “Voor hulle hulle oë uitvee, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en maak ’n einde aan die bouery.”
12 Die Judeërs wat naby daardie slegte spul gebly het, het ’n hele paar keer na ons toe gekom met die waarskuwing dat hulle ons gaan aanval.
13 Daarom het ek die mense met swaarde, spiese, pyle en boë bewapen. Ek het families saamgesit en hulle agter die muur stelling laat inneem by die plekke wat nog nie heeltemal klaar was nie.
14 Ek het gesien dat die mense benoud was; daarom het ek hulle leiers en amptenare bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Moenie vir daardie slegte mense bang wees nie! Dink eerder hoe asemrowend groot en magtig die Here is. Veg dan met alles in julle vir julle families en julle huisgesinne.”