15 Al my voorgangers het anders as ek opgetree. Hulle het swaar laste op die mense geplaas. Behalwe vir brood en wyn het hulle ook nog elke dag 460 gram silwer van die mense as belasting geëis. Selfs hulle amptenare het die mense misbruik vir hulle eie gewin. Ek het dit nie gedoen nie omdat ek God eer.
16 Ek het voluit aan die muur gewerk en nie eens vir my grond gekoop nie. Ek het van almal wat vir my gewerk het, verwag om aan die muur te werk.
17 Ek het daagliks vir ten minste 150 Judeërs en hulle leiers kos gegee. Dit is nou buiten mense van die omringende gebiede wat by ons kom aansluit het en wat ook daar geëet het.
18 Ek het elke dag ’n bees, ses uitgesoekte slagskape en baie hoenders gaargemaak. Elke tien dae is daar ook ’n nuwe voorraad wyn aangeskaf. Ten spyte van al hierdie uitgawes wat ek uit my sak moes betaal, het ek nooit my goewerneurstoelaag geëis wat ek hiervoor kon gebruik nie. Ek het geweet hoe swaar die mense alreeds kry.
19 My God, onthou tog alles wat ek vir hierdie volk gedoen het. Wees goed vir my daarvoor.