8 en vir hulle gesê: “Ons probeer ons bes om ons Judese volksgenote wat as slawe aan heidennasies verkoop is, terug te kry sodat hulle weer vry kan wees. En nou doen julle presies dieselfde en dit nogal met julle eie mense! Verwag julle dat ons hulle ook nou moet terugkoop?” Niemand het ’n woord gesê nie, want hulle het niks gehad waarmee hulle hulle kon verdedig nie.
9 “Dit is ’n onding wat julle doen!” het ek vir hulle gesê. “Julle is veronderstel om met groot respek teenoor julle God op te tree. Dan sal ons vyande, daardie mense wat nie die Here ken nie, geen rede hê om neer te sien op ons nie.
10 Ek en al my helpers het aan hierdie arm mense geld en koring geleen,” het ek verder gesê. “Kom ons hou nou dadelik op om mense uit te buit wat swaarkry.
11 Gee dadelik hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en kanselleer die rente wat julle op hulle uitstaande skuld op hulle geld, koring, wyn en olyfolie gehef het.”
12 “Ons sal maak soos jy sê en al hulle eiendom teruggee sonder om verdere skuld van hulle te probeer vorder,” was die ander mense se antwoord.Toe het ek die priesters nader geroep en hierdie mense onder eed laat belowe dat hulle hulle woord sou hou.
13 Daarna het ek my sakke as ’n teken uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie sy woord hou nie, net so uit sy huis en besittings uitskud sodat hy niks oorhet nie.”Die hele vergadering het gesê: “Amen; laat dit so wees!” en die Here geprys. Die mense het hulle belofte gehou.
14 Van die twintigste tot die 32ste regeringsjaar van koning Artasasta, gedurende die twaalf jaar dat ek die goewerneur van Juda was, het nie ek of enige van my amptenare ooit aanspraak gemaak op ons amptelike kostoelaag nie.