7 Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.”
8 My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.”
9 Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!”
10 Later het ek na Semaja seun van Delaja en die kleinseun van Mehetabel toe gegaan waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê: “Ons twee moet saam in die woonplek van God, daar in die heiligste deel van die tempel, gaan wegkruip. Ons moet die deur sluit, want daar kom vannag mense om jou dood te maak.”
11 Ek het vir hom gesê: “Ek is nie die soort mens wat weghardloop en gaan wegkruip nie. Moenie dink ek sal in die tempel gaan wegkruip om my lewe te red nie. Vergeet dit!”
12 Toe ek daaroor nadink, het ek besef dat God hom nie gestuur het nie, maar dat Sanballat en Tobija hom omgekoop het om dit vir my te sê.
13 Hulle het gehoop ek sou skrik en doen wat hy sê. Dan sou ek boonop verkeerd doen deur in die heilige deel van die tempel in te gaan. So sou hulle die kans kry om my te beskinder en te verneder voor my mense.