8 sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans.
9 Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.” Toe sy hulle groet, het hulle begin huil
10 en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.”
11 Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie!
12 Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan?
13 Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.”
14 Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai.