11 Die leiers en die ander mense wat by die ingang van die dorp bymekaar was, het toe gesê: “Ons is getuies! Mag die Here Rut seën met baie kinders soos dié van Jakob se twee vroue, Ragel en Lea. Mag jy ’n belangrike man wees in Efrata. En mag jy in Betlehem iemand wees na wie die mense opsien.
12 Mag die Here vir jou kinders by hierdie jong vrou gee, wat net so baie en so gelukkig sal wees soos dié van ons voorvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”
13 Boas het toe met Rut getrou en nadat hy by haar geslaap het, het die Here haar swanger laat word. Sy het geboorte gegee aan ’n seun. Die Here was baie goed vir haar.
14 Toe sê die vroue vir Naomi: “Loof die Here! Hy het vandag vir jou ’n kleinseun gegee om vir jou te sorg. Mag sy naam altyd in Israel voortleef deur sy kinders.
15 Jou skoondogter het jou baie lief. Sy het meer vir jou gedoen as wat sewe seuns ooit sou kon doen. Mag hierdie kleinseun wat sy nou vir jou gegee het, jou weer opgewonde oor die lewe maak omdat jy weet dat daar iemand sal wees wat vir jou sal sorg as jy die dag oud is.”
16 Naomi het hierdie kleinkind van haar met soveel liefde versorg asof hy haar eie kind was.
17 Die buurvroue het toe gesê: “Uiteindelik het Naomi weer ’n seun!” Die kind se naam was Obed. Obed was Isai se pa en Dawid se oupa.