4 Ek het gedink ek moet dit vir jou sê, en daarom is die getuies ook hier, dat jy die grond kan koop as jy dit wil hê. Dit is mos jou reg. Maar as jy dit nie wil hê nie, sê vir my, want ek is die volgende familielid wat die reg het om dit te koop as jy dit nie wil hê nie.”Die man sê toe: “Ek wil dit graag koop.”
5 Boas antwoord toe: “Dis goed so, maar jy weet natuurlik dat as jy die stuk grond van Naomi koop, jy ook met haar skoondogter Rut moet trou sodat sy kinders kan hê wat die grond van hulle pa kan erf.”
6 Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.”
7 In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil.
8 Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee.
9 Toe sê Boas vir die leiers en die ander mense wat daar rondgestaan het: “Julle is vandag getuies dat ek al Elimeleg en sy twee seuns, Kiljon en Maglon, se eiendom van Naomi gekoop het.
10 Daarmee saam word Maglon se weduwee, Rut, my vrou. So kan sy ’n seun kry wat ten minste sy pa se familienaam kan laat voortleef. Hy kan dan ook die familie se grond erf en hier in sy tuisdorp bly. Daarvan is julle vandag getuies.”