6 Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.”
7 In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil.
8 Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee.
9 Toe sê Boas vir die leiers en die ander mense wat daar rondgestaan het: “Julle is vandag getuies dat ek al Elimeleg en sy twee seuns, Kiljon en Maglon, se eiendom van Naomi gekoop het.
10 Daarmee saam word Maglon se weduwee, Rut, my vrou. So kan sy ’n seun kry wat ten minste sy pa se familienaam kan laat voortleef. Hy kan dan ook die familie se grond erf en hier in sy tuisdorp bly. Daarvan is julle vandag getuies.”
11 Die leiers en die ander mense wat by die ingang van die dorp bymekaar was, het toe gesê: “Ons is getuies! Mag die Here Rut seën met baie kinders soos dié van Jakob se twee vroue, Ragel en Lea. Mag jy ’n belangrike man wees in Efrata. En mag jy in Betlehem iemand wees na wie die mense opsien.
12 Mag die Here vir jou kinders by hierdie jong vrou gee, wat net so baie en so gelukkig sal wees soos dié van ons voorvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”