1 In die tyd toe Josia koning van Juda was, het die Here vir Sefanja ’n boodskap gegee. Josia se pa se naam was Amon en Sefanja s’n Kusi. Sefanja se voorouers lyk so: Kusi se pa was Gedalja, Gedalja se pa Amarja en op sy beurt was Hiskia weer Amarja se pa.
2 Die Here sê dat Hy alles van die aarde af gaan vee.
3 Hy gaan van die mense en diere ontslae raak, van die voëls en die visse en ook die slegte mense wat ander mense verkeerde dinge laat doen. Hy sê ook dat Hy veral die mense op die aarde gaan uitroei.
4 Eerste aan die beurt is die mense van Juda en Jerusalem. Die Here gaan die mense van Juda en Jerusalem straf. Hy gaan alles uitroei wat nog met die aanbidding van Baäl in Jerusalem te doen het. Hy gaan ook sorg dat niemand meer die priesters wat in Baäl se diens gestaan het, kan onthou nie.
5 Hy gaan ook ontslae raak van die mense in Jerusalem wat op die dak van hulle platdakhuise klim en neerkniel om die son, die maan en die sterre te aanbid. Dan is daar ook nog ander mense in Jerusalem wat voorgee om die Here te aanbid. Hulle beloof om lojaal aan die Here te wees, maar as hulle ’n eed moet aflê, gebruik hulle die afgod Milkom se naam. Al hierdie mense sal Hy uitwis!