7 Die mense van Juda moet besef dat hulle te make het met die Here wat gesag oor alles en almal het. Die beste wat hulle kan doen, is om hulle mond in sy teenwoordigheid te hou. Die tyd is baie naby dat Hy straf gaan uitdeel. Wanneer Hy kom om straf uit te deel, gaan dit wees soos iemand wat ’n offermaaltyd vir gaste hou en dan word die gaste self die offer. Die Here gaan die mense van Juda straf.
8 Wanneer die tyd aanbreek om met hulle af te reken, gaan die Here die leiers en die prinse van Juda straf. Hy gaan ook die mense straf wat die gewoontes van die heidense volke navolg.
9 Dit is ook nie vir die Here aanvaarbaar dat party van die mense net soos die heidene aanbid nie. Hy gaan hulle straf. Hy gaan ook die mense straf wat die koning ryk maak met die skatte wat hulle gekry het deur mense te beroof en te vermoor.
10 Die Here sê wanneer die tyd aanbreek om mense te begin straf, sal daar by ’n ingang van Jerusalem met die naam Vispoort mense wees wat sal skreeu omdat hulle bang en benoud is. Ook in die nuwer deel van die stad sal van die mense hartseer huil. Uit die heuwels in die omgewing sal ’n plofgeluid gehoor kan word soos die afgodsbeelde stukkend val.
11 Dit sal ook droewig gaan met mense wat in die besigheidsgebied van die stad bly, want die besigheidsmense gaan sterf.
12 Wanneer die Here sy beloofde straf gaan begin uitdeel, sal Hy niemand in Jerusalem laat wegkom nie. Hy sal al die arrogante mense en ook dié wat dink hulle het niemand nodig nie, uitsnuffel en straf. Hulle dink mos dat hulle hulle nie oor die Here hoef te bekommer nie, want hulle sê: “Hy doen tog niks, nie goed of kwaad nie.”
13 Maar hierdie arrogante mense se besittings sal gesteel word en hulle huise vernietig word. Dit sal nie help dat hulle huise bou nie, want hulle sal nie die plesier hê om daarin te bly nie. Dit is ook ’n hopelose saak vir hulle om wingerde aan te plant, want hulle sal nooit die kans kry om van die wyn te drink nie.