8 as ek guns in u oë gevind het, o koning en as die koning dit goed vind om my versoek toe te staan en my begeerte uit te voer, laat die koning en Haman na die feesmaal toe kom wat ek môre vir hulle sal voorberei, dan doen ek wat die koning gesê het.”
9 Toe het Haman op daardie dag bly en opgeruimd uitgegaan, maar toe Haman vir Mordekhai in die poort van die koning sien sit en dat hy nie opstaan of vir hom wegbeweeg nie, was hy vol woede teen Mordekhai.
10 Nogtans het Haman hom bedwing en toe hy by sy huis kom, laat hy al sy vriende en sy vrou Zeresh haal
11 en Haman het hulle vertel van die lof en eer van sy rykdom en van die menigte van sy kinders en hoe die koning hom bevorder het en hom opgelig het bo die prinse en die diensknegte van die koning.
12 Haman het verder gesê: “Selfs Ester, die koningin, het niemand saam met die koning na die feesmaal laat kom wat sy voorberei het nie, behalwe vir my en ook vir môre is ek, saam met die koning, deur haar genooi;
13 tog stel niks daarvan my tevrede, solank as wat ek vir Mordekhai, die Y’hudahiet, by die poort van die koning sien sit nie, want hy beweeg nie voor my nie.”
14 Toe sê sy vrou Zeresh en al sy vriende vir hom: “Laat ’n galg gemaak word van vyftig el hoog en praat in die oggend met die koning dat Mordekhai daaraan opgehang word; gaan dan vrolik saam met die koning na die feesmaal. Dit het Haman uitermate tevrede gestel en hy het die galg laat maak.