1 Moet jou nie verheug en spring van vreugde soos die nasies nie, o Yisra’el, want jy het gehoereer en jou God verlaat! Jy het op elke dorsvloer hoereloon liefgehad.
2 Dorsvloer en parskuip sal hulle nie bevredig nie en die nuwe wyn sal hulle in die steek laat.
3 Hulle sal nie in יהוה se land bly nie, maar Efrayim sal na Mitzrayim terugkeer en in Ashur sal hulle onrein kos eet.
4 Hulle sal nie drankoffers of wyn uitgiet vir יהוה nie, hulle offers sal Hom ook nie tevrede stel nie; hulle kos sal wees soos die brood van hulle wat treur; almal wat daarvan eet sal onrein wees, want die brood sal net vir hulself wees, dit sal nie in die huis van יהוה ingaan nie.
5 Wat sal julle dan doen op die aangestelde fees en op die dag van die fees van יהוה?
6 Want let op, hulle sal gaan weens verwoesting; Mitzrayim sal hulle bymekaarmaak, Memphis sal hulle begrawe. Onkruid sal hulle skatte van silwer oorneem; dorings sal in hulle tente wees.