16 So moet hy vir die Afgesonderde plek toedekking doen vanweë die onreinheid van die seuns van Yisra’el en vanweë hulle oortredinge, vir al hulle sondes en so moet hy dit ook doen vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle onreinheid bly.
17 Niemand mag in die Tent van Ontmoeting wees as hy ingaan om in die Afgesonderde plek toedekking te doen totdat hy uitkom, nie. Hy moet toedekking doen vir homself, vir sy huis en vir die hele vergadering van Yisra’el.
18 Hy moet na die altaar uitgaan wat voor יהוה is en daarvoor toedekking doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok vat en dit rondom aan die horings van die altaar smeer
19 en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel en dit reinig en afsonder van die onreinheid van die seuns van Yisra’el.
20 Wanneer hy die toedekking van die Afgesonderde plek, die Tent van Ontmoeting en die altaar voltooi het, moet hy die lewendige bok laat naderkom
21 en Aharon moet sy twee hande op die kop van die lewende bok lê en oor hom belydenis doen van al die skuld van die seuns van Yisra’el, al hulle wetsoortredinge, al hulle sondes en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur die hand van ’n man wat daar gereed staan, in die wildernis instuur
22 en hy moet die bok in die wildernis vrylaat. Die bok sal al hulle skuld na ’n eensame land wegdra.