14 en my hand het na die rykdom van die volke uitgereik soos na ’n nes en ék het die hele aarde bymekaargemaak soos ’n mens verlate eiers bymekaarmaak en daar was niemand wat sy vlerk geklap of sy bek oopgemaak of getjirp het nie.’”
15 Kan die byl hom beroem bo die een wat daarmee kap, of die saag homself verhef bo die een wat dit trek? Asof ’n knuppel húlle swaai wat hom oplig, asof ’n lat hóm oplig wat nie hout is nie!
16 Die Meester, יהוה-Tzva’ot, sal daarom ’n wegvretende siekte stuur onder sy dapper soldate en onder sy lof en eer sal Hy ’n brand aansteek soos ’n brandende vlam.
17 Die Lig van Yisra’el sal ’n vuur word en Sy Afgesonderde Een ’n vlam; dit sal brand en sy distels en sy dorings in ’n enkele dag verteer.
18 Hy sal ook die lof en eer van sy woud en van sy vrugbare velde vernietig, beide lewe en liggaam en dit sal wees soos wanneer ’n siek man wegkwyn.
19 Die res van die bome van sy woud sal so min in getal wees dat ’n kind dit kan opskryf.
20 In dié dag sal die wat oorgebly het van Yisra’el en die wat ontvlug het van die huis van Ya’akov, nooit weer steun op die een wat hulle geslaan het nie, maar hulle sal in waarheid steun op יהוה, die Afgesonderde Een van Yisra’el.