8 So sê יהוה: “Soos die nuwe wyn in die tros gevind word en een sê: ‘Verniel dit nie, want daar is voordeel in dit,’ so sal Ek optree ter wille van My diensknegte, om nie almal van hulle te vernietig nie.
9 Ek sal ’n nageslag uit Ya’akov laat voortkom en ’n erfgenaam van My berge uit Y’hudah; My gekoses sal dit erf en My diensknegte sal daar bly.
10 Sharon sal ’n weiveld vir kleinvee wees en die vallei van Akhor ’n rusplek vir beeste, vir My volk wat My soek,
11 maar julle wat יהוה verlaat, wat My afgesonderde berg vergeet, wat ’n tafel dek vir Gad (die geluksgod) en gemengde wyn inskink vir Meni (die god van die noodlot),
12 sal Ek bestem vir die swaard en julle almal sal neerbuig vir die slagting omdat Ek geroep het, maar julle het nie geantwoord nie, Ek het gepraat, maar julle het nie gehoor, geluister en gedoen nie en julle het boosheid voor My oë gedoen en gekies wat My nie behaag nie.”
13 יהוה-God sê daarom: “Let op, My diensknegte sal eet, maar julle sal honger bly. Let op, My diensknegte sal drink, maar julle sal dors wees. Let op, My diensknegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.
14 Let op, My diensknegte sal vreugdevol uitroep met ’n vrolike verstand, wil en emosie en júlle sal uitskree met ’n swaar gemoed en huil met ’n gebreekte gees.