16 Wanneer ons aan die tafel van die Here die seën oor die beker uitspreek, kry ons mos aandeel aan Christus se bloed. En as ons die brood breek, kry ons mos aandeel aan Christus se liggaam.
17 Omdat ons almal aandeel aan een en dieselfde brood kry, maak ons almal saam, al is ons baie mense, een liggaam uit.
18 En dink aan die volk Israel. Almal wat van die offers eet, word daardeur tot ’n eenheid verenig.
19 Wat probeer ek sê? Bedoel ek dat afgodsoffers iets belangriks is of dat die afgode werklik bestaan?
20 Hoegenaamd nie. Wat ek egter wel sê, is dat daardie offers in werklikheid aan duiwels gebring word en nie aan ’n godheid nie. En ek wil nie hê enigeen van julle moet met die duiwels gemeenskap hê nie.
21 Julle kan tog nie die beker van die Here drink en ook nog die beker van die duiwels nie! Julle kan nie aan die tafel van die Here deel hê en ook nog aan die tafel van die duiwels nie!
22 Wil julle werklik die Here uittart? Ons is tog nie magtiger as Hy nie!