17 Judas was inderdaad een van ons, en hy is ook saam met ons gekies vir hierdie bediening.”
18 (Met die omkoopgeld wat Judas vir sy verraad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en sy middellyf het oopgebars. Al sy ingewande het uitgepeul.
19 Die nuus oor sy dood het vinnig onder die inwoners van Jerusalem versprei. Hulle het daardie plek toe Akeldama genoem, ’n Aramese woord wat “Bloedgrond” beteken.)
20 Petrus het voortgegaan: “Dis presies soos dit in die Psalmboek geskryf staan: ‘Laat sy woonplek verlate word; laat niemand daar bly nie.’ “En op ’n ander plek: ‘Laat iemand anders sy toesigverantwoordelikheid oorneem.’
21 “Daarom moet ons nou iemand anders kies. Dit moet een van die mans wees wat die hele tyd toe die Here Jesus by ons was, ook saam met ons was –
22 van die tyd toe Jesus heel aan die begin deur Johannes gedoop is, tot op die dag toe Hy van ons in die hemel opgeneem is. Die een wat gekies word, sal saam met ons ’n getuie wees van Jesus se opstanding.”
23 Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias.