3 So is hulle deur die gemeente uitgestuur. Hulle het deur Fenisië en Samaria gereis en vertel van die bekering van die nie-Jode. Met hierdie nuus het hulle al die gelowiges baie bly gemaak.
4 Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die hele gemeente, insluitend die apostels en die ouderlinge, verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle bediening tot stand gebring het.
5 Sommige van dié wat gelowiges geword het uit die geledere van die Fariseërs, het egter opgestaan en verklaar: “Nie-Joodse bekeerlinge moet besny word en die opdrag kry om die wet van Moses te onderhou.”
6 Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om mekaar in die oë te kyk oor hierdie vraagstuk.
7 Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom.
8 En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons.
9 Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.