4 “Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind.
5 Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty.
6 En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is.
7 Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word!
8 Waarom is dit vir u almal so onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?
9 “Ek self het gedink dat daar ’n verpligting op my lê om alles in my vermoë te doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.
10 En dis presies wat ek in Jerusalem gedoen het. Met ’n mandaat van die priesterhoofde het ék baie van die gelowiges in tronke gestop, en wanneer daar oor hulle besluit moes word, het ek daarvoor gestem dat hulle permanent uit die weg geruim moes word.