14 Toe het die Here Hadad die Edomiet, ’n familielid van die koning van Edom, aangepor om teen Salomo in opstand te kom.
15 Jare vantevore het Dawid saam met Joab, die opperbevelhebber van sy leër, na Edom toe gegaan om dié wat gesneuwel het, te begrawe. Dit was nadat die leër van Israel feitlik elke manlike persoon in Edom doodgemaak het.
16 Dit het Joab en sy leër ses maande geneem om al die mans dood te maak.
17 Maar Hadad, wat toe nog maar ’n jong seun was, het saam met sommige Edomiete uit die hofhouding van sy pa in die rigting van Egipte gevlug.
18 Hulle het deur Midian na Paran toe getrek. Daar het nog mense by hulle aangesluit. Hiervandaan het hulle na Egipte toe gegaan, na die farao, die koning van Egipte. Hy het vir hulle woonplek, kos en grond gegee.
19 Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy sy skoonsuster, die suster van sy vrou koningin Tagpenes, vir hom as vrou gegee het.
20 Sy het vir Hadad ’n seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom saam met die farao se eie kinders in die farao se paleis grootgemaak.