20 Sy het vir Hadad ’n seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom saam met die farao se eie kinders in die farao se paleis grootgemaak.
21 Toe Hadad in Egipte hoor dat sowel Dawid as Joab, die opperbevelvoerder van sy leër, dood is, sê hy vir die farao: “Laat my gaan sodat ek na my eie land kan terugkeer.”
22 “Hoekom?” vra die farao hom. “Kom jy hier iets kort dat jy nou wil teruggaan?”“Nee, niks is verkeerd nie,” antwoord hy. “Maar laat my tog teruggaan.”
23 God het ook Reson, seun van Eljada, en onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba, aangehits om teen Salomo in opstand te kom. Reson het vir die koning gevlug.
24 Hy het ’n klompie manne om hom bymekaargemaak en die leier van die bende geword. In die tyd toe Dawid die magte van Soba verslaan het, het Reson en sy mense na Damaskus toe gevlug. Hy het daar gaan woon en koning geword.
25 Solank Salomo geleef het, was Reson ’n vyand van Israel. Dit was benewens die kwaad wat Hadad aangerig het. Reson was koning van Aram en het Israel intens gehaat.
26 Daar was ook nog ’n ander opstandeling. Sy naam was Jerobeam seun van Nebat, een van Salomo se amptenare. Hy was ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee.