6 Hulle het toe die land tussen hulle twee verdeel. Agab het in een rigting gegaan en Obadja in ’n ander rigting.
7 Obadja was nog op pad en dáár kom Elia hom tegemoet! Obadja het hom dadelik herken en voor hom neergebuig. “Is dit dan nie my heer Elia nie?” vra hy.
8 “Ja, ek is Elia,” antwoord hy. “Gaan sê vir die koning ek is hier.”
9 “Maar, Meneer,” maak Obadja beswaar. “Watter kwaad het ek dan gedoen dat u my na Agab, na my dood toe stuur?
10 So seker as die Here u God leef, die koning het by elke nasie en koninkryk op aarde na u laat soek. Elke keer as hy hoor ‘Elia is nie hier nie,’ het Agab die koning van daardie volk met ’n eed laat bevestig dat dit inderdaad so is.
11 En nou sê u vir my: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’
12 Dit kan wees dat as ek van u weggaan die Gees van die Here u dalk kan wegvoer na wie weet waar. As ek dan vir Agab vertel ek het u gesien, maar hy kry u nie, sal hy my doodmaak. En dit ten spyte daarvan dat ek my lewe lank ’n getroue volgeling van die Here is!