14 Die Here het ’n plaag oor Israel gestuur, en 70 000 mense van Israel is dood as gevolg daarvan.
15 En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes. Maar net toe die engel gereed was om die verderf te saai, het die Here berou gekry oor die ellende en vir die engel gesê: “Dis genoeg! Trek nou jou hand terug.” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
16 Dawid het opgekyk en die engel van die Here sien staan tussen hemel en aarde met sy ontblote swaard wat oor Jerusalem uitgestrek is. Toe het Dawid en die leiers van Israel in sak en as op die grond neergeval.
17 En Dawid het vir God gesê: “Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en hierdie baie verkeerde ding gedoen het! Maar hierdie mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!”
18 Die engel van die Here het vir Gad gesê om Dawid te beveel om ’n altaar vir die Here te gaan bou op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
19 Dawid het gedoen wat die Here hom deur Gad beveel het.
20 Arauna was besig om koring te dors toe hy omdraai en die engel sien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggehardloop en gaan wegkruip.