17 En Dawid het vir God gesê: “Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en hierdie baie verkeerde ding gedoen het! Maar hierdie mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!”
18 Die engel van die Here het vir Gad gesê om Dawid te beveel om ’n altaar vir die Here te gaan bou op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
19 Dawid het gedoen wat die Here hom deur Gad beveel het.
20 Arauna was besig om koring te dors toe hy omdraai en die engel sien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggehardloop en gaan wegkruip.
21 Toe Arauna sien dat die koning aankom, het hy sy dorsvloer verlaat en voor Dawid met sy gesig na die grond gebuig.
22 Dawid sê toe vir Arauna: “Laat my asseblief hierdie dorsvloer vir sy volle koopprys koop! Ek wil ’n altaar vir die Here hier bou sodat Hy hierdie plaag sal stop.”
23 “Vat dit, o Koning, en gebruik dit soos u wil,” het Arauna vir Dawid gesê. “Hier is ook beeste vir brandoffers en u kan die dorsgereedskap vir hout gebruik om die vuur op die altaar te maak. En vat die koring as ’n spysoffer. Ek wil dit alles vir u gee!”