26 Nogtans het die Here se toorn oor Juda voortgeduur. Dit was as gevolg van die bose dade van koning Manasse. Hy het nie sy toorn oor hulle laat vaar nie.
27 Die Here het gesê: “Ek sal my teenwoordigheid uit Juda wegneem net soos Ek met Israel gedoen het. Ek sal hierdie stad Jerusalem wat Ek verkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het: ‘My Naam sal daar wees.’”
28 Die ander gebeurtenisse tydens Josia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.
29 Terwyl Josia koning was, was farao Neko, die koning van Egipte, op pad na die Eufraatrivier om die koning van Assirië te gaan help. Koning Josia het teen hom opgetrek, maar koning Neko het hom doodgemaak toe hulle by Megiddo teenoor mekaar te staan gekom het.
30 Josia se soldate het sy liggaam in ’n wa uit Megiddo na Jerusalem toe gebring en hom in sy eie graf begrawe. Die burgers van die land het sy seun Joahas as koning in sy plek gesalf.
31 Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, dogter van Jeremia uit Libna.
32 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders gedoen het.