12 Terwyl hy in die diepste nood was, het Manasse die Here sy God om genade gevra en hom voor die God van sy voorouers verootmoedig.
13 Toe hy bid, het die Here na hom geluister en sy gebed verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem en sy koninkryk. Manasse het uiteindelik besef dat net die Here God is.
14 Hierna het Manasse die buitemure van die Dawidstad herbou wes van die Gihonfontein in die vallei tot by die Vispoort en om die Ofelheuwel. Hy het die muur baie hoër gemaak en bevelvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel.
15 Hy het die vreemde gode en afgodsbeeld uit die tempel van die Here verwyder en buite die stad weggegooi. Hy het dieselfde gedoen met al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het.
16 Daarna het hy die altaar van die Here herstel en die maaltyd- en dankoffers daarop gebring. Hy het die inwoners van Juda beveel om die Here die God van Israel te dien.
17 Die volk het nog steeds by die heidense heiligdomme geoffer, maar net aan die Here hulle God.
18 Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, sy gebed tot God en die woorde wat sieners in die Naam van die Here die God van Israel vir hom gebring het, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel.