18 Maar ’n jong seun het hulle tog gesien en het vir Absalom gaan sê. Hulle het egter weggekom en hulle na ’n huis in Bagurim gehaas. Die man het ’n put in sy binneplaas gehad en hulle het daarin gaan wegkruip.
19 Die man se vrou het ’n doek oor die put gegooi en graan daarop gestrooi om in die son droog te word. Niemand sou hulle daar verwag nie.
20 Toe Absalom se manne daar aankom, vra hulle vir die vrou: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”Sy het geantwoord: “Hulle het die spruit oorgesteek.” Absalom se manne het oral rond gesoek, maar kon hulle nie kry nie, en is terug na Jerusalem toe.
21 Toe hulle weer weg is, het die twee jong manne uit die put geklim en hulle na Dawid toe gehaas. “Julle moet vannag nog gou die Jordaanrivier oorsteek!” sê hulle. Hulle vertel toe wat Agitofel aanbeveel het.
22 Dawid en al sy mense het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek sodat hulle almal teen dagbreek aan die ander kant was.
23 Intussen het Agitofel agtergekom dat sy advies nie aanvaar is nie. Hy het toe sy donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan. Daar het hy finale opdragte aan sy familie gegee en homself gaan ophang. Hy het gesterf en is in die familiegraf begrawe.
24 Dawid het by Maganajim aangekom. Absalom en die hele leër van Israel het deur die Jordaanrivier getrek.