5 As julle regtig gehoorsaam is aan My en vashou aan my verbond met julle, sal julle my persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld. Die hele wêreld behoort aan My, maar julle sal in besonder die nasie wees wat aan My toegewy is.
6 Julle sal my koninkryk van priesters wees, ’n nasie wat die Here dien.’ Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.”
7 Moses het toe van die berg af geklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.
8 Die volk het toe soos uit een mond gesê: “Ons sal alles doen wat die Here vir ons gesê het.” Moses het aan die Here gaan rapporteer hoe die volk op sy opdrag gereageer het.
9 Die Here het toe vir Moses gesê: “Ek gaan in ’n swaar wolk na jou toe kom sodat die volk kan hoor hoe Ek met jou praat. Hulle sal jou dan altyd vertrou.” Nadat Moses aan die Here oorvertel het wat die volk alles gesê het,
10 het die Here vir hom gesê: “Gaan weer terug na die volk toe en berei hulle vandag en môre voor om My te ontmoet. Hulle moet hulle klere was.
11 Hulle moet reg wees vir die derde dag, want op daardie dag gaan Ek die Here voor hulle oë na die Sinaiberg toe afkom.