7 Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?”
8 “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep.
9 “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg.
10 Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.”
11 Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand.
12 Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe.
13 Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?”