1 Die Here het vir Moses gesê: “Jy en die volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar van hier af verder trek. Gaan na die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob beloof het. Toe het Ek belowe dat Ek hierdie land vir hulle nageslag sal gee.
2 Ek sal ’n engel voor julle uitstuur. Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf.
3 Dit is ’n baie vrugbare land. “Ek sal egter nie verder saam met julle trek nie. Julle is ’n eiesinnige volk. As Ek saamgaan, sal Ek julle dalk vernietig.”
4 Toe die volk hierdie harde woorde hoor, het hulle baie hartseer geword. Hulle wou nie langer juweliersware dra nie.
5 Die Here het dan immers vir Moses beveel om vir die Israeliete te sê: “Julle is ’n eiesinnige volk. As Ek ’n tree verder saam met julle moet trek, gaan Ek julle vernietig. Haal af julle juweliersware. Ek sal kyk wat Ek met julle moet doen.”
6 Vandat hulle van Sinai af weg is, het die Israeliete nie weer juweliersware gedra nie.
7 Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af opgeslaan. Hy het dit “die ontmoetingstent” genoem. As iemand by die Here raad gesoek het, het hy na die ontmoetingstent buite die kamp gegaan.