5 Uit vrees vir hulle lewens het die matrose tot hulle gode om hulp geroep. Hulle het van die vrag oorboord gegooi om die skip ligter te maak. Terwyl dit alles gebeur het, het Jona afgegaan na die vragruim van die skip en daar gelê en geslaap.
6 Die kaptein van die skip het afgegaan na Jona toe en vir hom geskreeu: “Hoe kan jy in sulke omstandighede slaap? Staan op en bid tot jou god! Miskien sal hy ons genadig wees en ons lewens spaar.”
7 Die matrose sê toe vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan vasstel wie hierdie krisis veroorsaak het.” Hulle het dit gedoen en Jona is uitgewys.
8 Toe vra hulle hom: “Wat het jy gedoen om hierdie storm oor ons te laat losbars? Wie is jy en wat is jou beroep? Waar kom jy vandaan? Wat is jou nasionaliteit?”
9 Jona het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel wat die see en die land gemaak het.
10 Ek is besig om van die Here af weg te vlug.”Toe het groot vrees die matrose beetgepak. Hulle het uitgeroep: “Hoekom doen jy dit?”
11 Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?”