6 Josua het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die Here op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe. Hy en die leiers van Israel het stof oor hulle koppe gestrooi.
7 Josua het toe gehuil: “Ag, oppermagtige Here, waarom het U hierdie volk oor die Jordaan laat kom om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan vernietig? As ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly het!
8 Here, wat kan ek nou sê nadat Israel vir sy vyande moes vlug?
9 Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?”
10 Die Here sê toe vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy daar op die grond?
11 Israel het oortree. Hulle het my ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed van die ban gevat. Hulle het daarvan gesteel. Hulle het daaroor gelieg en dit by hulle goed gaan wegsteek.
12 Die Israeliete sal nie weerstand kan bied teen hulle vyande nie. Hulle sal moet vlug vir hulle vyande, want hulle het nou self ’n banvloek geword wat vernietig moet word. “Ek sal nie langer by julle bly as julle nie alles tussen julle vernietig wat onder die ban staan nie.