2 Ganani, een van my broers, het my saam met ander persone uit Juda kom besoek. Ek het hulle uitgevra oor die Jode wat die ballingskap oorleef het en oor die omstandighede in Jerusalem.
3 Hulle antwoord was: “Dit gaan nie goed met die mense wat uit die ballingskap teruggekeer het en daar oorgebly het nie. In die provinsie Juda is daar groot ellende en bespotting. Jerusalem se muur lê om en die stadspoorte is deur vuur vernietig.”
4 Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Vir dae aaneen het ek getreur, gevas en tot die God van die hemel gebid.
5 Ek het gesê: “Here, God van die hemel, U is die groot en vreesaanjaende God. U hou by u verbondsbelofte. U is getrou in u liefde teenoor dié wat u gebooie liefhet en gehoorsaam.
6 Hoor my gebed! “Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen!
7 Ons het verkeerd opgetree deur nie die opdragte, voorskrifte en bepalings wat U vir u kneg Moses beveel het, te gehoorsaam nie.
8 “Hou tog in gedagte wat U vir u kneg Moses gesê het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi.