Nehemia 10:33-39 NLV

33 Dit sal voorsiening maak vir die offerbrood, die gereelde graanoffers en brandoffers, offers op die Sabbat, Nuwemaanfeeste en die jaarlikse feeste. Verder ook vir spesiale gewyde dae, offers om Israel se sondes te versoen en vir ander werk by ons God se tempel.

34 “Daar was ook hout nodig wat volgens die wet op die altaar by die tempel van die Here ons God moes brand. Ons het lootjies getrek om te besluit wanneer die families van die priesters, die Leviete en die gewone mense volgens vasgestelde beurte die hout moes bring.

35 “Ons sal ook elke jaar die eerste graan wat ons oes of die eerste vrugte van al die bome na die Here se tempel toe bring.

36 Soos die wet vereis, sal ons ons oudste seuns en die eerste kalf en lammetjie na die tempel van God bring. Ons sal hulle bring na die priesters wat by die tempel van ons God diens doen.

37 Ons sal ons beste meel en koring, ons beste vrugte, nuwe wyn en olyfolie bring. Ons sal dit opgaar in die stoorkamers van ons God se tempel. Ons sal ook vir die Leviete ’n tiende bring van alles wat ons land oplewer. Hulle versamel mos die tiendes in al die dorpies waar ons werk.

38 Daar sal ’n priester uit Aäron se familie by die Leviete wees as hulle die tiendes ontvang. Die Leviete sal ’n tiende van alle tiendes wat hulle insamel na die tempel toe bring en in die stoorkamers wegbêre.

39 Die mense van Israel en die Leviete moet al hierdie graanoffers, die nuwe wyn en die olyfolie na die stoorkamers by die tempel bring. Dit is waar hulle die tempelgereedskap bêre, en waar die priesters wat diens doen asook die tempelwagte en sangers bly. “Ons sal die tempel van ons God nie verwaarloos nie.”