13 Dié nag het ek by die Valleipoort uitgegaan, verby die Jakkalsfontein tot by die Mispoort. Ek het die beskadigde mure van Jerusalem en die afgebrande hekke gaan ondersoek.
14 Daarna het ek na die Fonteinhek en die Koningsdam gery, maar my donkie kon nie deur die bourommel loop nie.
15 Ek het toe in plaas daarvan in die Kidronvallei op beweeg. Ek het die muur ondersoek en daarna teruggedraai en weer deur die Valleipoort die stad binnegegaan.
16 Die amptenare van die stad het nie geweet dat ek uitgegaan het of waarmee ek besig was nie. Ek het nog nie die Jode oor my planne ingelig nie. Ek het ook nog nie met die godsdienstige of die politieke leiers daaroor gepraat nie, ook nie met die amptenare of die mense wat die werk sou doen nie.
17 Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Jerusalem is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.”
18 Toe het ek hulle begin vertel hoe goed God vir my voorsien het en van my gesprek met die koning. Hulle het dadelik reageer en gesê: “Dit is reg so. Kom ons bou die muur weer op!” Hulle het toe met die goeie werk begin.
19 Maar toe Sanballat, Tobija die Ammonitiese amptenaar en die Arabier Gesem van ons planne hoor, het hulle ons minagtend gekoggel en gevra: “Wat dink julle doen julle om so teen die koning in opstand te kom?”