Nehemia 5:11-17 NLV

11 “Julle moet vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle teruggee. Betaal ook die rente terug wat julle op hulle geld, graan, wyn en olyfolie gehef het.”

12 Hulle het toe gesê: “Ons sal maak soos u sê. Ons sal alles teruggee en niks meer van hulle eis nie.” Ek het die priesters geroep en die leiers en amptenare ’n eed laat sweer dat hulle sal doen wat hulle beloof het om te doen.

13 Toe het ek ook my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God julle net so uitskud uit julle huise en julle eiendom as julle nie julle belofte nakom nie!” Die vergadering het heelhartig daarmee saamgestem en die Here geprys. Die mense het hulle beloftes nagekom.

14 Ek was twaalf jaar lank goewerneur van Juda. Dit het gestrek vanaf die twintigste tot die 32ste jaar wat koning Artasasta regeer het. In dié tyd het nie ek of enige van my amptenare die kostoelaag waarop die goewerneur geregtig is, gebruik nie.

15 Maar dit was nie die geval met die goewerneurs wat my voorgangers was nie. Hulle het die mense swaar belas. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog 460 gram silwer geëis. Selfs die goewerneurs se amptenare het van die mense misbruik gemaak. Maar ek het nie so opgetree nie omdat ek vir God ontsag het.

16 Ek het my aandag aan die bou van die muur gegee en nie vir my grond aangeskaf nie. Ek het ook van al my amptenare verwag om aan die muur te werk.

17 Ek het gereeld 150 Judeërs en amptenare aan tafel gehad. Dit was bo en behalwe die besoekers wat uit lande van die omgewing gekom het.