5 Ons is almal familie van mekaar, ons kinders is vir hulle net soos hulle kinders. Tog moet ons ons kinders as slawe verkoop om net genoeg geld te kry om van te leef. Ons moes al van ons dogters verkoop. Ons is magteloos om iets daaraan te doen, want ons landerye en wingerde is alreeds aan ander mense verpand.”
6 Toe ek hulle klagtes hoor en al die dinge wat hulle sê, was ek baie kwaad.
7 Nadat ek dit goed oordink het, het ek die leiers en amptenare aangespreek en vir hulle gesê: “Julle buit julle eie mense uit deur geld teen rente aan hulle te leen!” Ek het toe ’n groot openbare vergadering oor die probleem belê.
8 By die vergadering het ek vir hulle gesê: “Ons het ons bes gedoen om ons Joodse volksgenote wat hulleself aan vreemde volke moes verkoop, vry te kry. Nou verkoop julle julle eie mense weer as slawe en ons moet hulle terugkoop!” Hulle was stil en het nie ’n woord gesê nie.
9 Ek het voortgegaan en gesê: “Wat julle doen, is nie reg nie! Behoort julle leefwyse nie te wys dat julle ons God respekteer nie? Die vyandige volke sou dan mos nie rede gehad het om julle te minag nie.
10 Ek, my familie en my werkers het self ook geld en graan aan van die mense geleen. Kom ons hou nou op om op hierdie manier geld teen rente uit te leen.
11 “Julle moet vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle teruggee. Betaal ook die rente terug wat julle op hulle geld, graan, wyn en olyfolie gehef het.”