Nehemia 9:27-33 NLV

27 Daarom het U hulle oorgegee aan hulle vyande wat die lewe vir hulle moeilik gemaak het. Toe dit met hulle swaar gaan, het hulle by U om hulp geroep. U het hulle gehoor uit die hemel.In u groot goedheid het U mense gestuur om hulle te verlos uit die mag van hulle vyande.

28 Maar sodra dit goed gaan, begin u volk weer sondig. U het toegelaat dat hulle vyande hulle weer oorwin. Elke keer as u volk hulp vra, het U maar weer gehoor uit die hemel. U het hulle keer op keer vrygemaakomdat U so baie vir hulle omgee.

29 U het hulle gewaarsku om u wet te gehoorsaam, maar hulle was hoogmoedig en wou nie u wette gehoorsaam nie. Mense wat u voorskrifte gehoorsaam, ontdek wat die lewe werklik is.Maar u voorskrifte het hulle oortree. Hulle het die rug op U gedraai en geweier om na U te luister.

30 U was vir baie jare geduldig met hulle.U het gereeld deur u Gees profete gestuur om hulle te waarsku, maar hulle wou nie luister nie! Daarom het U hulle weer oorgelewer aan die heidense inwoners van die land.

31 Maar omdat U meegevoelmet hulle het, het U hulle nie heeltemal uitgeroei of verwerp nie. U is ’n God wat liefdevol is en baie genade het!

32 “U is ons God, U is groot en magtig!U is die ongelooflike God. U hou die verbond en is getrou in u liefde. Moet tog nie al ons swaarkry geringskat nie. Ons en ons konings, ons leiers, priesters, profete, ons voorouers en die hele volk het gely vanaf die tyd van die Assiriese konings tot vandag toe.

33 Elke keer as U ons straf, was dit regverdig.U was reg,ons het verkeerd gedoen.