26 “Israel bly nou al 300 jaar in Gesbon en sy omgewing, Aroër en sy distrik en in al die stede langs die Arnon. Hoekom het jy hulle nie destyds al probeer terugkry nie?
27 “Ek het nie verkeerd met jou gemaak nie. Jy is die een wat verkeerd met my maak. Laat die Here, wat die regter is, vandag sy beslissing gee in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.”
28 Die koning van die Ammoniete wou egter nie luister na die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie.
29 Die Gees van die Here het op Jefta gekom. Hy het deur Gilead en Manasse getrek tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy teen die Ammoniete gaan veg.
30 Jefta het ’n gelofte aan die Here gemaak. Hy het beloof: “As U my vandag die oorwinning oor die Ammoniete gee,
31 en as ek behoue van die Ammoniete af terugkom, sal ek die persoon wat van my huis af kom om my te groet, aan die Here afstaan. Ek sal hom as brandoffer offer.”
32 Jefta het teen die Ammoniete gaan veg. Die Here het vir hom die oorwinning gegee.