8 Hy het hulle met geweld aangeval en ’n geweldige slagting onder hulle aangerig. Hy het daarna in ’n skeur by die rots van Etam gaan woon.
9 Die Filistyne wou wraak neem en het in Juda kamp opgeslaan. Hulle het Legi geplunder.
10 Die mense van Juda wou toe weet: “Waarom kom maak julle oorlog met ons?” Die Filistyne het geantwoord: “Ons wil Simson vang. Ons wil hom terugbetaal vir wat hy aan ons gedoen het.”
11 Uit Juda is toe 3 000 man af na die skeur by Etam. Hulle vra vir Simson: “Onthou jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?” Hy het hulle geantwoord: “Ek doen maar net met die Filistyne wat hulle aan my gedoen het.”
12 Die mense van Juda sê toe vir hom: “Ons het jou kom vang om jou aan die Filistyne uit te lewer.” “Goed,” het Simson vir hulle gesê. “Beloof my net dat julle my nie sal doodmaak nie.”
13 Hulle het hom belowe: “Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons gaan jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons sal jou regtig nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgemaak en hom weggeneem van die skeur af.
14 Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne gejuig en op hom afgestorm. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Hy het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraadjies was wat wegbrand. Die toue waarmee hy geboei was, het van sy hande afgeval.