2 Die mense van Dan het vyf sterk mans uit hulle stam gekies. Hulle het die mans van Sora en Estaol af uitgestuur om vir hulle na grond te gaan soek. Hulle opdrag was: “Gaan verken die land.” Hulle het toe in die heuwels van Efraim by Miga se huis uitgekom. Daar het hulle die nag oorgebly.
3 Hulle het in Miga se huis die stem van die Leviet herken. Hulle het hom eenkant toe geroep en vir hom gevra: “Hoe het jy hier uitgekom? Wat maak jy hier? Wat hou jou hier?”
4 Hy vertel hulle toe dat hy ’n ooreenkoms het met Miga: “Hy het my gehuur. Ek is sy priester.”
5 Hulle het toe vir hom gesê: “Vind uit by God of ons reis voorspoedig gaan wees.”
6 “Wees gerus,” het die priester vir hulle gesê. “Die Here gaan saam met julle op julle reis.”
7 Die vyf mans het toe vertrek. Hulle het in Lajis aangekom. Hulle het gesien dat die inwoners, net soos die mense in Sidon, rustig daar bly. Hulle was rustig en vreedsaam. Hulle land was vrugbaar en hulle het niks kortgekom nie. Hulle was ver van Sidon af en het geen bondgenote naby gehad nie.
8 Hulle is toe terug na Sora en Estaol. Hulle stamgenote het hulle toe uitgevra: “Het julle iets gesien?”