11 Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.” Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp.
12 Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand.
13 Gideon het toe nader gesluip. In die kamp was ’n man juis besig om vir sy makker te vertel wat hy gedroom het. “Ek het gedroom,” het hy vertel, “daar kom ’n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ’n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.”
14 Sy maat het geantwoord: “Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon, die seun van Joas, nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.”
15 Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank. Hy het teruggegaan na die Israeliete se kamp. Hy het sy manskappe opgeroep: “Staan op! Die Here gee die Midianiete oor aan julle.”
16 Gideon het die 300 manskappe in drie afdelings verdeel. Hy het vir elke manskap ’n ramshoring in die hand gegee en ook ’n leë erdepot met ’n fakkel daarin.
17 Toe sê hy vir sy manskappe: “Kyk mooi wat ek doen. Wanneer ek by die kamp kom, moet julle presies maak soos ek.