27 En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
28 Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.
29 Of hoe kan iemand in die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.
30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
31 Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.
32 En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.
33 JULLE moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.