16 En niemand sit ’n nuwe stuk lap op ’n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom ’n erger skeur.
17 ’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.
18 TERWYL Hy vir hulle dit sê, kom daar ’n sekere owerste en val voor Hom neer en sê: My dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê u hand op haar, en sy sal lewe.
19 En Jesus het opgestaan en hom gevolg, en ook sy dissipels.
20 En daar het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak.
21 Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word.
22 En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.