25 En hy was ’n teëstander van Israel al die dae van Salomo — en dit nog by die kwaad wat Hadad gedoen het — want hy het ’n afsku van Israel gehad, en hy het oor Aram koning geword.
26 OOK Jeróbeam, die seun van Nebat, ’n Efraimiet uit Seréda — die naam van sy moeder was Serúa, ’n weduwee — ’n dienaar van Salomo, het sy hand opgehef teen die koning.
27 En dít was die aanleiding dat hy die hand teen die koning opgehef het: Salomo het Millo gebou en daardeur die skeur aan die stad van sy vader Dawid toegemaak.
28 En die man Jeróbeam was ’n dapper held. Toe Salomo sien dat die jongman ’n bekwame arbeider was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Josef.
29 Terwyl Jeróbeam in dié tyd uit Jerusalem uitgaan, kry die profeet Ahía, die Siloniet, hom op die pad; en dié was bekleed met ’n nuwe mantel; en hulle twee was alleen in die veld.
30 Toe gryp Ahía die nuwe mantel wat hy aangehad het, en skeur dit in twaalf stukke,
31 en hy sê vir Jeróbeam: Neem vir jou tien stukke, want so spreek die Here, die God van Israel: Kyk, Ek gaan die koninkryk uit die hand van Salomo afskeur en aan jou die tien stamme gee;