4 Want toe Isébel die profete van die Here uitgeroei het, het Obádja honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in ’n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou.
5 En Agab het vir Obádja gesê: Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie.
6 En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het afsonderlik met een pad getrek, en Obádja het afsonderlik met ’n ander pad getrek.
7 Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía?
8 En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar.
9 Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring?
10 So waar as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie — dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie.