28 Toe kom die man van God nader en sê aan die koning van Israel: So spreek die Here: Omdat die Arameërs gesê het: Die Here is ’n god van die berge, en Hy is nie ’n god van die laagtes nie — daarom sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee, dat julle kan weet dat Ek die Here is.
29 En hulle was sewe dae lank teenoor mekaar gelaer; maar op die sewende dag het die geveg begin, en die kinders van Israel het van die Arameërs honderdduisend voetgangers op een dag verslaan.
30 En die wat oor was, het na Afek, na die stad gevlug, en die muur het op die sewen-en-twintigduisend man geval wat oor was. Bénhadad, wat ook die stad ingegaan het, het van kamer tot kamer gevlug.
31 Toe sê sy dienaars vir hom: Kyk tog, ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel genadige konings is; laat ons tog rouklere om ons heupe bind en bande om ons hoofde en uitgaan na die koning van Israel; moontlik sal hy u in die lewe behou.
32 Toe het hulle rouklere om hul heupe vasgegord en bande om hul hoofde en na die koning van Israel gekom en gesê: U dienaar Bénhadad sê: Laat my tog lewe! En hy antwoord: Lewe hy dan nog? Hy is my broer.
33 En die manne het hulle dit dadelik toegeëien as ’n gunstige voorteken van sy kant en gesê: Bénhadad is u broer! Daarop sê hy: Gaan haal hom. En Bénhadad het uitgekom na hom, en hy het hom op die wa laat klim.
34 En Bénhadad sê vir hom: Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee, en u kan vir u winkelstrate aanlê in Damaskus soos my vader in Samaría aangelê het. En ek, sê Agab, sal u op hierdie verbond laat gaan. Hy het toe ’n verbond met hom gesluit en hom laat gaan.